Oom Izak, Teen Die Voet Van Die Klap Kloof

Die son se strale het al goud begin dans teen die hange van die Klap Kloof toe ons die veldpaadjie al skud-skud aandurf. Dis Sondagmiddag en ons is genooi vir sjokoladekoek by oom Izak.

Oppad luister ek na die verhaal van hoe die Klap Kloof sy naam gekry het. Deur die kloof loop ń paadjie waar die ossewaens eens stof opgeskop het. Net n tweespoor pad oor die klipperige berg, wat net een trekspan op ń slag kon akkommodeer. Wanneer jy met jou ossespan aan die voet van die kloof arriveer, was daar eers halt geroep.

Die langsweep, wat pa nog gebrei het op die trek, is dan uitgehaal en in die stilte het ń paar knalle deur die kloof weergalm.

Die langsweep, wat pa nog gebrei het op die trek, is dan uitgehaal en in die stilte het ń paar knalle deur die kloof weergalm. Almal se ore gespits om te hoor of daar antwoord is. Weer ń sweepslag of twee wat die stowwerige kleiaarde laat les opsê. Stilte. Indien daar geen antwoord kom met eie sweepslag nie, kon jy weet die pad is oop en die touleier kan maar die osse met gefluit weer voortdryf om die tweespoor paadjie te oorwin.

Dis winter in die Klap Kloof en die bosagtige wêreld vertoon vaal, wat die doringbome nog meer kru laat uitstaan. Tog, koester hierdie tipe bosveld sy eie prag met diere wat oral ritsel en klein stroompies water wat hul kronkelpad al kabbelend vind teen die berg af.

Op die werf stop ons onder ń groot doringboom en ek kyk na oom Izak se klein huisie wat amper gekoester lê teen die waai van hierdie magtige Klap Kloof. Die wit en swart skaaphond groet opgewonde en op die stoep is die mooiste vetplantjies gerangskik. My oog vang die twee rottang tuinstoele in die verbygaan en ek wonder stil of die een sitplek meesal koud is.

“Kom sit sommer in die kombuis, dis warmer hier,” nooi oom Izak. Om die ses sitplek tafel groet die lomerige hitte van die houtstoof ons vriendelik. Soos ń stywe drukkie omvou dit jou en laat jou welkom voel in die klein kombuisie. Ek loer na die kat wat bo-op die kombuiskas naelskraap skuur teen ‘n outydse glas olielamp. Net-net verby…

Oom Izak sit aan die kop van die tafel en skuif vir elkeen ń sny sjokoladekoek om die beurt nader. “Self gebak,” spog hy met ń glimlag. Die klingel van teelepels in swart koffie teen die rand van die nerfaf blikbekers laat die oomblik nostalgies voel. Suikersoet smelt die sjokoladekoek in my mond en die bloedrooi kersie in die versiersuiker, laat my skielik verlang na my ma.

Die rustige vloei van ons stemme val sagkuns teen die mure van die oorvol, maar netjiese huisie. Prakties, snoesig ingerig. So in die gesels deel oom Izak onwetend ń paar broodnodige wyshede uit en ek kyk verwonderd hoe die siele rondom die tafel sy woorde indrink. Dors vir ń paar druppels uitgeleefde waarhede.

Oom Izak is ń sjef, al wou sy pa hom destyds dwing om vir Yskor te gaan werk. “I have no regrets,” vonkel sy oë byna ondeund, terwyl hy n stukkie van sy lewensverhaal voor ons ontvou. Ek staar na hom, met die mus op sy kop, bene oormekaar gekruis en sien die rustigheid in sy wese waarna so baie dikwels smag. Oom Izak, weet wie hy is, dink ek by myself.

In die voorvertrek rank die mooiste bonsai voor die oop venster. Sy kronkels en draai dans opwaarts en vertoon magies met die silhouet van die Klap Kloof in die agtergrond. Spierwit affodille in die een hoek vorm ń sagte kontras teen die vaal wêreld wat net buite die venster lê. Oral kan jy die groen vingerafdrukke van oom Izak sien straal op die mooi versogde plantegroei wat lewe gee aan die klein huisie.

Die son se goue strale het verander in sagte pers skadus teen die hang van die berg en ons tyd om te groet het aangebreek. Ek draai terug en kyk na oom Izak, sy skaaphond, die klein huisie en die twee alleen stoele op die stoep. Nog ń keer kyk ek, en drink die toeneel voor my in, bêre dit iewers diep binne.

“ The kiss of the sun for pardon, the song of the birds for mirth.

One is nearer God’s heart in a garden, than anywhere else on earth.”

Dorothy Frances Gurney

Op die skud-skud pad terug weerklank die woorde teen oom Izak se pilaar in my binneste: “ The kiss of the son for pardon, the song of the bird for mirth. One is nearer tot God in a garden, than anywhere else on earth.” Ek maak my oë toe en bid dat God oom Izak sal bewaar in sy huisie teen die hang van die Klap Kloof. Mag Hy sy hand in Syne toevou wanneer die groot K die laaste lig in die wyse oë kom verdof.

In my gees hoor ek vir oulaas ń sweepslag weergalm op-op teen die hange, maar daar is geen ego wat groet nie… want dit het stil geword in die Klap Kloof.

 

You Might Also Like