Verruil Jou Vrot Piesangs Vir Lewende Brood

Ek staan een oggend op met die gedagte dat ek die piesangs in my yskas wat besig is om oorryp te word, gaan omswaai in ń paar lekker piesangbrood kolwyntjies. Min wetend dat God so tussen die koekmeel en fyngedrukte piesangs ʼn stukkie waarheid met my gaan kom deel.

Terwyl ek die bestanddele uitpak op my kombuis oppervlak, vang my oog kort-kort die geel en swart gekneusde piesangs wat gereed lê. Jy sien, soms in ons lewens is daar soveel trauma, seer woorde en berou dat ons ook lyk soos die gekneusde piesangs.

Ja, Here… Ek het ook al self met ń gekneusde swart en geel jas deur die gange van my lewe gestrompel. Ek sien die beelde uit die verlede in my geestesoog; voel weer die seer wat brand agter my oë. Dit voel soos gister…

My hande werskaf om die resep se nat bestanddele bymekaar te voeg terwyl ek ‘n sagte stem in my binneste hoor fluister: Bring daardie gekneusde geel jas, swaar gelaai met emosies na My toe. Ek sal vir jou ń nuwe kleed aantrek.

Is dit so maklik Here?

Ja Dogter, vertrou my met die vrot en oorryp stukke van jou lewe. Gee dit oor en laat my toe om dit te omskep in nuwe varsheid.

Nuwe varsheid? Hoe kan iets wat vrot is weer vars word?

Ek vind dit ironies dat die gekneusde piesangs nog verder pap gedruk moet word, voordat ek dit by die finale beslag kan inmeng. Daar is nie ń kans vir omdraai om weer vars te word onder dieselfde jas nie. Mens kan so maklik sê: Ai, as dit maar weer kon wees soos dit was. Maar is dit die beste? Nie altyd nie.

Jesus kom en neem jou gekneusde, pap gedrukte piesangs en Hy voeg sy eie karaktervolle bestanddele daarby om iets nuut en spesiaal te maak. Die geheim lê miskien in die vertroue wat jy moet hê om weerloos te wees voor jou Abba Vader. Om Hom ten volle toe te laat om genesing te bring in jou lewe.

So, as jy vandag seer en gekneus voel, trek jou geel en swart jas uit by die kruis. Druk fyn al daardie seer, bitterheid en swaarkry wat jy om jou skouers saam dra. Vra God om jou opnuut weer te vorm en te maak na die begeerte van Sy hart.

Sien dit in jou verbeelding. ń Nuwe vars gebakte piesang broodjie wat met aanloklike geure mense na jou binnekring nooi om ook te kan deel aan die ware Brood van die Lewe – Jesus Christus.